Honest as Nature

Article

Wolsagtheid weerspieël gehalte

201703/07/2017

In Merino-wolproduksie is die aanvoeling van wol tradisioneel ‘n groot aanduider van gehalte.  Voorkeur word gegee aan die sagtheid van aanvoeling in die beoordeling van wol en die seleksie van skape wat goeie gehalte wol produseer.  Dit is algemeen bekend dat fyner wol ‘n sagter aanvoeling het, wat direk gekorreleer word met die veseldeursnee wat objektief in mikromete-eenhede (micron) gemeet word.  ‘n Mikron dui die deursnee van die vesel aan en is gelykstaande aan een duisendste van ‘n millimeter.  Veseldeursnee kan subjektief bepaal word deur die aantal kartelings per 25mm wol te skat, met die inagneming van hantering, stapeldikte en gehalte.  Hoe meer kartelings per 25mm, hoe fyner is die wol.

Prof Deurden se navorsing

Die pionier van wolnavorsing in Suid-Afrika, prof JE Duerden, word veral onthou vir die feit dat hy hierdie sterk korrelasie tussen vesellengte en veseldeursnee in ‘n Merino-wolstapel raakgesien het, en die veronderstelling gemaak het dat die spiraalgroei van die vesels die golwings van die kartels in wol vorm en die spiraalvorm deur sywaartse druk platgedruk word. 
Hy sal ook onthou word vir die samestelling van standaarde vir veseldikte en kartels in Merino-vetwol.  Ten tyde van sy navorsing in die laat 1920`s, is ‘n gehaltenommer aan elke wolmonster toegeken, oënskynlik om die telling waarteen die wol gespin kon word aan te dui.  Hierdie nommer is egter op grond van subjektiewe meting bepaal en het waarskynlik sodoende sy bedoelde verhouding met die ware spintelling verloor.
In die handel het dit egter as ‘n klassifikasiemetode volgens die vernaamste veseleienskappe gedien, wat na verwagting die spinprestasie kon beïnvloed.  Prof Duerden het verskeie monsters aan wolkenners voorgelê, sodat hulle die veseldeursnee en aantal kartels per duim kon meet.  Daarvolgens het hy ‘n tabel saamgestel wat die gehaltenommer onderskeidelik met die deursnee en karteling verbind.
Hoewel dit nie die eerste poging was om veseldeursnee of karteling met spintelling te verbind nie, was dit waarskynlik die eerste wat die deursnee en aantal kartels per eenheid-lengte by die Brandford-ter-minologie sou insluit.  Hierdie standaarde word sedert die publikasie daarvan in 1929 in Suid-Afrika gebruik.
Vandag verteenwoordig Duerden-wol die ideale balans in hanteringsensitiwiteit, verwerkingsvermoë en eienskappe van die finale produk.  Die wolboer se teelbeleid moet wees om wol volgens die Duerden-standaard te produseer.

Die gemaksfaktor

Jare later beïnvloed die veseldeursnee steeds 70 tot 80% van die vetwolprys oor die lang termyn.  Dit is veral duidelik in die fynwolkategorie, waar ‘n variasie van so laag as een mikron ‘n aansienlike rol in die verkoopprys speel.  (Hier kan ook genoem word dat skoonopbrengs en treksterkte ook die uiteindelike prys per kilogram beïnvloed) Die gemiddeld van die onderskeie klasse is tussen 18 en 20 mikron vir fyn Merinowol, en superfyn wol is so laat as 15 mikron.

Die term “gemaksfaktor” (CF), wat gedefinieer word as die persentasie wolvesels met ‘n deursnee minder as 30 mikron, het die afgelope tyd die gonswoord in die bedryf geword en is gewild as ‘n objektiewe metode om die gemak van wol te toets.  Die belangrikheid van CF het betrekking op die gevoel van ‘n material teen die draer se vel.  Materiaal wat van wol met ‘n hoë CF (>95%) gemaak word, sal minder harde vesels hê wat makliker buig en gevolglik minder krapperig voel. Sommige kenners verskil egter hieroor.

More Articles   Share